Dit wil voorkom asof u tans 'n uitgedateerde webblaaier gebruik en/of 'n webblaaier sonder ondersteuning vir CSS. Daar is niks verkeerd hiermee nie maar ek sal u aanraai om 'n moderne, opgrdateerde webblaaier soos Firefox te gebruik vir die beste ondervinding met hierdie webwerf. Dankie.

Charl van Niekerk » Joernaal

Hoof

Vorige inskrywings

Argief

Powered by Blogger

Internasionale moedertaaldag

Ek is ongelukkig 'n bietjie laat maar 20 Februarie was dit internasionale moedertaaldag.

So 'n bietjie meer informasie uit die artikel Translate.org.za - Gelukkige internasionale moedertaaldag!:

Ek neem aan meeste mense het nie geweet dit was internasionale moedertaaldag vandag nie ~ of selfs dat daar 'n dag gereserveer word alleenlik vir die bevordering van moedertaalwaardering en -behoud nie. Dis geen probleem nie ~ dis ons brood en botter, dus weet ons! Mense regoor die wêreld sal vandag internasionale moedertaaldag vier wat deur UNESCO in 1999 ingestel is ter erkenning van die belangrikheid en behoud van al die wêreld se moedertale. Ons het gedink dit is 'n uitstekende geleentheid om mense te herinner aan wat ons doen en hoekom ons dit doen.

Dit is uitstekende nuus; elke dag moet ons egter ons eie taal vier en dit trots gebruik. Ons het verseker meer Afrikaanse inhoud nodig op die web; ek wil graag 'n beroep doen op alle Afrikaans-eerstetaalsprekers om hulle eie joernale ("blogs") te begin sodat ons Afrikaans op die Internet kan bou.

Inskrywing deur Charl van Niekerk op Friday, February 23, 2007
[ Permanente skakel | Kommentaar (0) ]

Afrikaanse Joernaalplaneet

Ek noem 'n "blog" gewoonlik 'n joernaal in Afrikaans, maar wat ook al jy dit wil noem, danksy Translate.org.za is daar nou 'n plek waar alle Afrikaanse joernale bymekaar kan kom.

Meeste joernale het 'n tipe "nuusvoer" (gewoonlik in RSS- of Atom-formaat) sodat mense maklik die inhoud van die joernaal kan lees binne 'n program soos Thunderbird of Bloglines. Die inhoud kan ook deur middele van nuusvoere op ander webwerwe vertoon word.

Om die waarheid te sê, daar is 'n spesiale tipe webwerf wat hulle 'n "planeet" (in Engels, "planet") noem. Dit is 'n tipe joernaal wat slegs uit ander joernale bestaan.

'n Baie bekende stelsel wat 'n mens toelaat om so 'n planeet te skep is PlanetPlanet. Dit is geskryf in die Python-programmeringstaal en maak gebruik van Mark Pilgrim se universele nuusvoer-verwerker.

Translate het hierdie stelsel gebruik om 'n Afrikaanse planeet op te stel asook planete in ander Afrika-tale.

Dus, daar was nog nooit 'n beter tyd om jou eie joernaal te begin in Afrikaans of in 'n ander Afrika-taal. Sien Translate se eie joernaalinskrywing vir meer informasie of kontak my gerus.

Inskrywing deur Charl van Niekerk op Thursday, February 15, 2007
[ Permanente skakel | Kommentaar (0) ]

Geagte President

Geagte president Mbeki

Misdaad is tans vir die meeste Suid-Afrikaners 'n groot bron van kommer. Daarom dink ek dat dit juis 'n goeie idee van Eerste Nasionale Bank was om 'n veldtog teen misdaad van stapel te stuur. Dit is hartseer dat die beplande veldtog in die kiem gesmoor is nog voordat dit behoorlik kon posvat.

Soos u self weet, is dit belangrik vir 'n gemeenskap om die kans gegun te word om aan hul gevoelens uiting te gee. Die Suid-Afrikaanse gemeenskap is tans kwaad oor misdaad en daarom is ek bly dat die gemeenskap die kans gegun word om hul misnoeë met u hantering van die misdaadkrisis te kenne te gee.

Die 18 528 moorde, 54 926 verkragtings en die 119 726 gevalle van gewelddiefstal is vir my, soos vir miljoene ander Suid-Afrikaners, onaanvaarbaar. Misdaad is besig om Suid-Afrika groot skade te berokken. Dit benadeel sakevertroue en vernietig die hoop om die baie ander probleme waarop Suid-Afrika eintlik moet fokus, insluitende armoede en werkloosheid, aan te pak. Die belangrikste is egter dat dit van Suid-Afrikaners negatiewe, pessimistiese en onpatriotiese landsburgers maak. 'n Land vol bang en ontstelde mense kan kwalik suksesvol wees.

Ek wil u daarom ernstig versoek om misdaad vandag nog tot 'n nasionale krisis te verklaar en om dit die regering se topprioriteit te maak om alle landsburgers beter te beveilig.

- Stop die moorde!

Labels: , ,

Inskrywing deur Charl van Niekerk op Tuesday, February 06, 2007
[ Permanente skakel | Kommentaar (0) ]

Kopiereg © 2004-2006 Charl van Niekerk. Alle artikels is gelisensiëer onder die Creative Commons Toekening 2.5 Suid-Afrika lisensie, behalwe wanneer ander kopiereginformasie verskaf word.